Ek het ’n vriend gehad wat heeltyd bekommerd was oor sy ouers se planne vir ski-vakansies – veral die uitwerking wat dit op sy erfgeld sou hê. Verwagtinge oor erfporsies het egter verander: ouers meen hulle moet nie meer ’n groot bedrag vir hul kinders nalaat nie, want in baie gevalle is die kinders deesdae welvarender as wat hul ouers ooit was. Met ’n langer lewensverwagting en krimpende inkomste bly daar ook nie noodwendig veel oor nie.
As ouers nie ’n stewige erfporsie opsy kan sit nie, moet hulle aan die “ontasbare” nalatenskap dink wat hulle kan bied. Dié nalatenskap is soos om te sorg dat hul kinders geldwys is en dat hulle die lewe skuldvry kan aanpak. ’n Goeie (finansiële) opvoeding is van onskatbare waarde. Ouers moet egter ook ’n goeie voorbeeld stel, en finansiële dissipline en onderrig moet ’n integrale deel van die gesinslewe wees. Hoe anders kan kinders leer hoe om met geld te werk? Dit gebeur immers nie op skool nie.
Baie mense is skrikkerig om hul kinders van geldsake te leer, want hulle voel onbevoeg en weet nie waar om te begin nie. ’n Gesonde verstand sal mens egter ver bring.
* ’n Begroting is ’n taak vir die hele gesin. Betrek jou kinders wanneer jy ’n begroting opstel; dit sal hulle wys wat dit kos om ’n bepaalde lewenspeil te handhaaf en waardering daarvoor kweek.
* Hou jouself op die hoogte van finansiële sake. Niemand anders het dieselfde belang om na jou geldsake om te sien as jy nie. Sorg dus dat jy weet wat om te doen. Jy hoef nie’n kenner te wees nie. ’n Goeie verwysingsboek is Mind over Money deur Graeme Codrington en Louis Fourie.
* Skuld is die duurste ding wat jy kan koop. Moenie geld in ander dinge belê terwyl jy besig is om skuld af te betaal nie, want die opbrengskoers uit die belegging sal waarskynlik heelwat minder wees as die rentekoers wat jy op die skuld moet betaal.
* Raad is nie verniet nie, wees bereid om daarvoor te betaal. Professionele raadgewers is hoogs gekwalifiseerde individue en jy moet bereid wees om soos vir enige ander professionele diens vir hul konsultasie te betaal. As jy “gratis” raad soek, moet jy aanvaar daar gaan vooroordeel en bybedoelings wees.
* Vra vrae, baie vrae. Daar is nie iets soos ’n dom vraag nie. As jy iets nie verstaan nie, hou aan vra tot alles duidelik is.
* Kry ’n tweede mening. Benader dit op dieselfde manier as wat jy ’n tweede mening van ’n ander dokter/tandarts/regsgeleerde sou inwin.
* Moet nooit ooit ’n blanko vorm onderteken nie. Dit is nie net onwettig vir enigeen om te vra dat jy dit doen nie, dit sou baie dom van jou wees om dit te doen.
* Moenie toelaat dat ’n verkoopspersoon jou aanjaag en in ’n hoek druk nie. Dit is algemene verkoopstegniek waarvoor jy op jou hoede moet wees. Bestee genoeg tyd om die implikasies vir jou en jou gesin te oorweeg.
Greg Sneddon is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner by thefinancialcoach.co.za in Kaapstad.
Besoek Finweek se Facebook-blad by http://facebook.com/finweek
