Beursverhandelde nota’s verduidelik

Een manier waarop jy in ontluikende markte kan belê, is deur beursverhandelde nota’s (exchange-traded notes of ETN’s). ETN’s is soortgelyk aan beursverhandele fondse (exchange-traded funds, ETF’s), wat ’n onderliggende indeks volg. Daar is egter een belangrike verskil. Die maatskappy wat ’n ETF uitreik, koop die onderliggende aandele van ’n indeks. Maar die uitreiker van ’n ETN koop nie noodwendig al die onderliggende aandele nie – dit beloof jou egter presies dieselfde opbrengs as ’n bepaalde indeks.

Dit beteken jy aanvaar ’n teenparty-risiko – die moontlikheid bestaan dat die opbrengs nie behaal gaan word nie. Dit moet jou nie te veel bekommer nie. As groot uitreikers van ETN’s soos Standard Bank of Deutsche Bank nie hul ETN-beleggings gestand kan doen nie, is die kans groot dat hulle veel groter dinge het waaroor hulle bekommerd is in die mark. Die einde van die wêreld soos ons dit ken, byvoorbeeld.

Jy kan ’n ETN koop nes jy gewone aandele sou koop – deur ’n aandelemakelaar. Anders kan jy ’n platform vir beursverhandelde produkte gebruik, soos etfsa.co.za. ETN’s is beleggings waarin jy ’n totale opbrengs verdien – wat beteken jy ontvang nie elke paar maande kontantdividende nie. Pleks daarvan sal die waarde van die eenheid toeneem soos wat dividende verklaar word.

Een opsie is Standard Bank se Africa Equity Index ETN, wat die prestasie van 173 aandele in 23 Afrika-lande volg. Standard Bank het self dié indeks ontwerp. Geen beurs in Afrika word toegelaat om meer as 20% van die indeks uit te maak nie. Suid-Afrika is uitgesluit, wat dit aantreklik maak vir beleggers wat wil diversifiseer. Die ETN word oorheers deur finansiële, konstruksie-, mynbou- en telekommunikasiemaatskappye.

Nog ’n ETN wat op Afrika fokus, is Deutsche Bank se DBX Africa 50 ETN (DBAFRI). Dis nouer as die Standard Bank-opsie  met net 50 aandele in die indeks. Hoewel maatskappye van lande soos Egipte, Kenia, Mauritius, Marokko, Nigerië en Tunisië ingesluit is, verteenwoordig Suid-Afrika 53% van die gewig van die indeks.

Deutsche Bank’s DBCHIN ETN volg die MSCI se China-indeks, wat 150 Chinese maatskappye volg wat op die aandeelbeurse in Sjanghai, Shenzen en Hongkong genoteer is. Dit gee jou suiwer blootstelling aan China.

Deutsche Bank se MSCI Emerging Markets ETN is nog ’n opsie. Die volg die MSCI-indeks van ontluikende markte, wat in 23 ontluikende markte belê is. Brasilië, Rusland, Indië en China verteenwoordig 50% van die indeks en Suid-Afrika 7.5%. Dis my voorkeurkeurse – dit het ’n lekker mengsel van beleggings in ontluikende markte.

Gewoonlik word die aandele kwartaalliks verander – as hulle baie waarde verloor het, word hulle uit die indeks geskop.

Daar is ’n aantal risiko’s aan ETN’s. Teenparty-risiko is na my mening onbenullig. Daar is geldeenheidrisiko. Die meeste ontluikende markte verhandel in hul eie geldeenheid, wat na rand omgesit moet word. Sommige Chinese aandele word in Amerikaanse dollar genoteer, wat kan beteken dat as die rand teen die dollar versterk, dit die glans van enige potensiële opbrengs kan laat verdof. (Onthou egter dat ’n belegging in dié ETN’s nie deel uitmaak van jou toegelate buitelandse beleggings nie.)

Daar is ’n mate van markrisiko. As jy ’n Chinese ETN kies en die mark vou, sal jou belegging ernstig geraak word. Nietemin, op lang termyn sal ontluikende markte na verwagting beter vaar as die ontwikkelde wêreld. ’n Bewys hiervan is dat sewe van die tien snels groeiende ekonomieë in Afrika is; tot dusver in dié millennium is Angola die snels groeiende mark ter wêreld.

Die feit dat ETN-uitreikers as markmaker optree, dien as gerusstelling vir beleggers. Jy kan ter enige tyd jou beleggings verkoop. Die uitreikers sal kopers en verkopers wees teen die billike-waardeprys van die ETN. As die billike waarde van die beleggings wat die ETN volg byvoorbeeld R10.80 is (die prys word elke 15 sekondes bygewerk), sal jy sien dat die uitreiker koop teen R10.75 en verkoop teen R10.85. Dis maklik om die uitreiker raak te sien – hulle verhandel in groot, afgeronde syfers.

Speak Your Mind

*