Sukses met prentjies

Triggerfish Animation Studios in Kaapstad spog met sy eerste vollengte-animasierolprent.

Die ateljee het Suid-Afrika en die res van Afrika pas op die voorgrond geplaas met die rolprent, Adventures in Zambezia.

Dié rolprent begin volgende maand plaaslik draai, maar het reeds internasionale erkenning gekry in lande soos Rusland.

Dit is aangewys as die beste Suid-Afrikaanse vollengte-rolprent op vanjaar se Durbanse internasionale rolprentfees.

Die Kaapse animasie-ateljee het sy reis as ’n boetiek-ateljee vir die vervaardiging van stopraam-animasie (’n animasietegniek wat dit laat lyk dat ’n statiese voorwerp op sy eie beweeg) in 1996 begin, hoofsaaklik met werk vir die advertensiebedryf.

Stuart Forrest, Triggerfish se uitvoerende hoof en vervaardiger, sê die onderneming se eerste deurbraak was toe hy ’n kontrak met die Amerikaanse kindertelevisiereeks Sesame Street onderteken het vir die vervaardiging van inhoud vir sowel die internasionale as die Suid-Afrikaanse weergawe (Takalani Sesame) van dié program.

Die kontrak met Sesame Street het van 1998 tot 2008 geduur en Triggerfish het in dié tyd ses seisoene se inhoud geskep.

Dit was juis dié kontrak wat Triggerfish deur diep waters gedra het toe die vraag na stopraam-animasie in 2003 begin taan het. Triggerfish was byna bankrot.

“Ons moes die meeste van ons toerusting verkoop en die bedryf na my sitkamer verskuif, waar ons voortgegaan het om dienste vir Sesame Street te lewer – dit het net genoeg werk verskaf dat ons kon oorleef,” sê Forrest.

Forrest sê die “groot deurbraak” was in 2006, toe hy gevra is om die TV-fliek Zambezia vir Character Matters, ’n rekenaargegronde animasieateljee in Kaapstad, en sy Kaliforniese vennoot, Wonderful Works, te regisseer.

Ses maande later het Triggerfish die konsep van Zambezia verder gevoer en ’n vollengte-fliek, Adventures in Zambezia, as ’n toetsprojek geskep om hom te help om finansiering te kry. Die geanimeerde rolprent sou spog met die vertellings van kosbare Afrika-stories aan die res van die wêreld.

“Afrika-animasie was lank stil op die wêreldverhoog en nou het Triggerfish die vasteland se rigtinggewende animasie-ateljee geword. Ons neem Afrika se unieke kreatiewe stem na Hollywood en gehore wêreldwyd,” sê Forrest.

Dit is iets wat hy hoop die negatiewe opvattings van Afrika sal verander en die vasteland self sal inspireer.

Dit is nou ses jaar later en die toetsprojek het Afrika se animasieproduksie op dieselfde platform geplaas as van die beste rolprente wat in wêreldberoemde ateljees soos Disney Pixar en DreamWorks vervaardig word.

Om ’n projek soos dié aan te pak, verg ’n groot kontantinspuiting, maar Triggerfish het aanvanklik net drie beleggers gehad: Wonderful Works (VSA), 120dB Film Finances (VSA) en die Suid-Afrikaanse rolprent- en videostigting (NFVF), wat altesame die helfte van die begroting gedek het.

Hulle het die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC ) vir die res van finansiering genader. Die aansoek is in 2009 goedgekeur en die produksie kon toe sonder geldelike probleme voortgaan.

Adventures in Zambezia spog hoofsaaklik met ’n Amerikaanse rolverdeling, soos die Oscar- en Golden Globe-benoemde akteur Samuel L. Jackson en die aktrise Abigail Breslin. Nietemin was die produksie goedkoper as sy Hollywood-eweknieë, wat tot $20 miljoen kan beloop.

“Ons begroting is ’n fraksie van die ateljeebegrotings en Triggerfish is aan die voorfront van laekoste-inhoudskepping en gehoorontdekking vir animasierolprente. Ons bied ’n beter risiko-beloning-aanbod as die tradisionele ateljee se ‘treffer’-gedrewe sakemodel,” sê Forrest.

Triggerfish wil voordeel trek uit die vordering met mobiele tegnologie om innoverende maniere te vind om hul produksies in hoofstroom-Afrika te versprei.

Vier jaar gelede het Triggerfish net ses werknemers gehad; nou verskaf hy werk aan meer as 100 mense tydens die spitstyd van elke produksie.

Forrest het nog heelwat ambisie om die onderneming verder uit te brei. Triggerfish nader beleggers op die oomblik vir finansiering om ’n groep van drie tot vyf rolprente te maak en, onder meer, die Triggerfish Animation School as ’n opleidingsinstansie bekend te stel wat volgende jaar in bedryf gestel word.

Die ateljee voltooi sy tweede produksie, Khumba. Dit sal volgende jaar uitgereik word.

Speak Your Mind

*